Moeders van die Bybel


Moeders van die Bybel - en wat ons by hulle leer     - Lorraine Steyn





'n Spesiale gedagte vir Moedersdag

In die begin het God die hele aarde gemaak – ook die mens en sy vrou.  Na die sondeval in die paradys het God vir die vrou gesê dat sy met pyn en smart kinders in die wêreld sou bring.  Wanneer ons kyk na bekende Ma-figure in die bybelse tyd kom ons agter dat hierdie pyn en smart nie net verwys na die fisiese pyn van kindergeboorte nie, maar dat daar ook werklike smart was in die harte van Moeders van die vroegste tye af.


·         Eva self, die heel vroegste Ma van alle tye, se hele wêreld val inmekaar op een enkele dag – haar jongste kind is dood en haar oudste is ‘n moordenaar – verseker nie ‘n goeie prentjie van die ideale gesin nie.  God seën haar egter met nog ‘n kind en in Gen. 4:25 lees ons: Adam het weer met sy vrou gemeenskap gehad, en sy het 'n seun in die wêreld gebring en hom Set genoem, “want,” het sy gesê, “God het vir my 'n ander kind gegee in die plek van Abel omdat Kain hom vermoor het.”




·         Dan was daar Hagar – die vrou wat verwerping en vernedering beleef het!  Sy vlug met Ismeal die woestyn in nadat Abram – op Sarah se aandrang – haar weggestuur het.  Daar kom sy en Ismeal amper om – maar die Here ontferm Hom oor hulle.
  Gen.21: 17-18: God het die kind hoor huil, en die Engel van God het uit die hemel na Hagar geroep en vir haar gesê: “Wat is dit, Hagar? Moenie bang wees nie, want God
 het die kind daar waar hy lê, gehoor  Staan op, tel die kind op en troos hom, want Ek sal hom 'n groot nasie laat word.”   

Die Here is altyd getou aan sy beloftes!




Saam met die smart is daar egter ook baie vreugde, liefde en ander emosies. Emosies is onlosmaaklik deel van menswees – maar soveel te meer nog Ma-wees.  Iemand het eenmaal opgemerk dat om Ma te wees, is om vir die res van jou lewe met jou hart buite jou liggaam rond te loop.

·         Wanneer Sarah self hoor dat sy op ‘n hoë ouderdom sal swanger raak, lag sy – waarskynlik op daardie oomblik meer van ongeloof as vreugde, maar wanneer die belofte vervul word, ervaar sy ook die vreugde van Ma-wees. 


Gen. 21: 6 -7 Sara het toe gesê: “God het gemaak dat mense vir my lag: elkeen wat 
van Isak hoor, sal vir my lag.”  Sy het verder nog gesê: “Wie sou vir Abraham kon sê dat Sara seuns aan haar bors sal voed? Ek het in sy ouderdom 'n seun in die wêreld gebring.” 



·         Soms is Ma’s self verantwoordelik vir die smart wat oor hulle kom.  Een so Ma was Rebekka – die Moeder van Jakob en Essau.  Sy trek duidelik vir Jakob voor en bedrieg vir Isak sodat hy vir Jakob in plaas van Essau seën.  Wanneer Essau egter uitvind van Jakob se bedrog, moet sy hom wegstuur om van Essau te vlug.  In Gen. 27:45 is haar hartseer woorde dan ook: Waarom moet ek julle altwee op een dag verloor?”




·         Vir Jogabed- Moses se Moeder – word die beskerming van haar kind die grootste prioriteit.  Sy moet hom wegsteek – en later selfs wegstuur – dis ‘n saak van lewe en dood.  Ek kan my net indink hoe bang sy moes wees en hoe hartverskeurend dit moes wees toe sy Moses in die biesiemandjie toemaak en op die Nyl neersit. Met haar dogtertjie, Miriam se hulp- word sy in die verhaal darem weer toegelaat om Moses te sien en selfs te voed tot hy gespeen is, nadat hy deur die Egiptiese prinses ontdek is. 

Hier sien ons duidelik met hoeveel teerheid die Here self na Moeders kyk en die deernis wat Hy met hulle het.  Sy genade en trou is duidelik sigbaar.




·         Ook in die nuwe testament lees ons daarvan wanneer Hy die weduwee se smart sien op die begrafnis van haar seun.  In Luk. 7:13 – 15 lees ons:
·         Toe die Here haar (die Moeder) sien, het Hy haar innig jammer gekry en vir haar gesê: “Moenie huil nie!” Hy gaan toe nader en vat aan die baar. Die draers gaan staan toe, en Hy sê: “Jongman, Ek sê vir jou, staan op!” Die dooie het regop gaan sit en begin praat. En Jesus het hom aan sy ma teruggegee.

Nog kort uittreksels uit verhale van Moeders waarna ons kan kyk is:


·        Dis nie net biologiese Moeders wat ‘n groot invloed op iemand se lewe het nie.  Soms is dit ‘n Aanneem-Ma, Ouma, Tannie, Juffrou of dalk selfs jou skoonma wat ‘n positiewe invloed op jou lewe het. – dink maar net aan die verhaal van Rut en Naomi.



·        ‘n Moeder se gebede word verhoor.  Hannah is ‘n Ma wie se arms vir ‘n langtyd leeg was – maar wanneer Sameul gebore word, onthou sy haar gelofte aan die Here en doen sy daardie gelofte gestand.



·        Moeders besef die wonder van ‘n nuwe lewe. Elizabet is met wonder vervul oor die baba wat aan haar en Sagaria gegee word – ook op ‘n hoe ouderdom.  Boonop voel sy die vreugde van haar kind aan wanneer hy met Jesus se ma in aanraking kom.




·        Ons kan ook nie aan moeders dink sonder om te dink Maria die Moeder van Jesus nie.  Watter smart het daar op haar gewag?  Sy was geseënd onder die vroue – en tog aanskou sy die grootste hartseer in die wereld se geskiedenis.  Sy huil by die graf, wanneer haar Seun – die Messias - onskuldig gekruisig word.  Sy opstanding bring egter ongekende vreugde en hoop vir die hele wereld.



Al hierdie Ma’s het een ding in gemeen:  Hulle kinders speel ‘n groot rol in die koninkryk van God – danksy ‘n Ma wat aanhou glo en bid vir haar kinders. 
Wat beteken al hierdie verhale van moeders egter vir ons?

Vir almal van ons:  In almal van ons se lewens is ‘n Ma of Ma-figuur wat al met trane in haar oe en op haar kniee vir jou gebid het, wat vir jou omgee en wat vir jou onvoorwaardelik lief is.  Dink vandag ook met liefde aan haar – en as jy gelukkig genoeg is dat sy nog lewe, moenie huiwer om haar te besoek nie.  As ‘n besoek nie moontlik is nie, bel haar.  Jy sal nooit verstaan hoe groot haar liefde vir jou is nie.

Vir Moeders:  Ek is self ‘n ma en voel dikwels- soos meeste Ma’s – asof ek nie goed genoeg is nie – asof ek nie so oulik of knap is soos ander Mammas nie.  In vandag se preek hoor ons duidelik die boodskap dat ons goed genoeg is in God se oe - ons het reeds die metamorfose ondergaan van ruspe tot skoenlapper.

Jy is dus nie net nog ‘n ma wat veg vir oorlewing in ‘n deurmekaar wêreld nie.  Inteendeel – Jy is die heel beste Ma wat daar is vir jou eie kinders – jy is God se plan A vir jou kinders.  Jou unieke persoonlikheid en vaardighede maak dat jy jou gesin se behoeftes die heel beste kan hanteer.  Om te voel jy is nie goed genoeg nie – is nie ‘n boodskap wat van die Here af kom nie! 

Die vyand wil graag gesinne opbreek en skuldgevoelens en gevoelens van minderwaardigheid is van die wapens wat hy gebruik om teen die wil van God in te gaan.Wees dus versigtig aan wie jy jou ore uitleen. 

Hou jou oog op die Here!  Jy en jou geliefdes sal die storm oorleef.  Doen net altyd jou beste – jy is kosbaar! 




















Comments