Elke Ma se Unieke geur.


Elke Ma se unieke geur.




DJ Opperman – een van ons land se grootste digters skryf ‘n gedig oor die vroue in sy lewe – wat later vir Gospelsanger, Jan de Wet so aangryp dat hy ‘n liedjie daarvan maak.  Die woorde lees:

My nooi is in ‘n nartjie,
My Ouma is in kaneel.
Daar is iemand... iemand in anys
Daar’s ‘n vrou in elke geur.

As ek ‘n stukkie nartjieskil
tussen my vingers buig of knak;
Breek om my uit ‘n sproeireen
wat geurend om my hand uitsak.
Die boorde weer van swartfoloos
En met die nartjies om my heen
Weet ek hoedat ‘n vrou kan troos.

Ek weet party van julle sing seker nou die deuntjie in julle kop.

Met die aanloop na moedersdag gesels ek met ‘n groepie vriendinne.  “Wat is van jou kosbaarste herinneringe van jou Ma toe jy nog ‘n kind was?” vra ek hulle.

Die antwoorde wat ek kry, verskil nogal van mekaar want vir elke persoon is daar ‘n unieke ervaring wat hulle van hulle Ma’s kan onthou toe hulle nog kinders was, maar een ding wat uit almal se gesprekke duidelik is, is dat daar ‘n reuk is wat hulle met hulle Ma’s assosieer.  Van die reuk van ‘n heerlike bord kookkos, tot die reuk van haar badskuim as sy uit haar kamer uit kom soggens.



In hierdie selfde tyd kyk ek ook na ‘n video op Youtube van Nicole Johnson.  Die video se naam is The Invisible Woman.  In hierdie video vertel sy hoe sy al hoe meer onsigbaar begin voel het omdat haar man en kinders haar nie hoor as sy met hulle praat nie.  Ek dink elke Ma ken daardie gevoel wanneer jy voel jy praat met die mure.  Ook in ons rol as tuisteskeppers en versorgers voel dit soms of niemand raaksien wat ons doen nie.  Maar dan vertel Nicole dat, nadat sy ‘n boek gelees het wat haar vriendin vir haar gegee het, sy besef het dat dit nie saakmaak as niemand sien nie, want God sien alles raak.  Hy sien elke knoop wat vasgewerk word, hy hoor elke gebed wat ‘n Ma vir haar gesin bid en Hy sien en droog elke traan wat ‘n Ma gedurende die nag in haar kussing stort omdat sy nie wil hê dat haar man en haar kinders moet haar hoor of sien huil nie.

Maar een ding weet ek ook – al spreek jou gesinslede dalk nie gereeld hulle waardering uit oor alles wat jy doen nie – jou teenwoordigheid laat ‘n lieflike geur na.  Dit is daardie geur wat veroorsaak dat jou huismense graag wil huis toe kom na ‘n skooldag, werksdag of na ‘n skooluitstappie.
Daarom deel ons vandag vir elke Ma ‘n lekkerruiksepie uit – om jou te herinner dat jou reuk ‘n lieflike, aangename reuk is.  En net soos wat elkeen van hierdie sepies verskil van vorm, kleur en geur, so is elke Ma ook uniek en het elkeen van ons ons eie unieke stempel wat ons op ons huise afdruk – ons eie geur.

Baie kinders sal vir jou vertel dat hulle ook soos die digter waarvan ons pas gelees het, ‘n spesiale soort troos by hulle Ma’s kry.  Dit is die sproeireen wat geurend om hulle uitsak.  Daar is ‘n spesiale sagtheid waarmee God vrouens geskape het.  Hierdie sagtheid kry veral gestalte op daardie eerste oomblik wat ‘n nuwe Mamma afkyk in die klein ogies van ‘n mensie wat geheel en al van haar versorging afhanklik is.

2 Kor 2:14b praat van God se kennis wat Hy deur ons versprei soos ‘n aangename geur.  Dit geld egter net wanneer ons die Here ken  en daardie kennis aan ons kinders oordra.
Ek sluit af met die woorde van Spr. 31:30  “Uiterlike skoonheid hou nie, ‘n mooi voorkoms is nie alles nie; as sy die Here dien, dan verdien ‘n vrou om geprys te word.”



Comments